Suidoosterfees se spesiale verjaardagprojek met Netwerk24
Netwerk24 se 10de verjaardag en die Suidoosterfees se 21ste is in 2024 met ’n spesiale aanlyn projek gevier: Met woorde soos kerse – ’n reeks video’s van poësievoordragte waarvoor Antjie Krog gedigte uit Kwedam, Sesotho, isiZulu, Sesotho sa Leboa, Setswana en isiXhosa in Afrikaans vertaal het.
Onderwysers, dosente, leerders, studente en akademiese navorsers is welkom om die video’s te geniet en vir opvoedkundige doeleindes te gebruik. In die klaskamer en lesinglokaal is die reeks ’n handige instrument vir ’n vergelykende studie van tale, en die materiaal kan kreatief ingespan word vir gebruik en verryking in ’n groot verskeidenheid vakke en dissiplines.
Die reeks is aangebied deur die Suidoosterfees saam met Netwerk24, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape. Met woorde soos kerse is verder moontlik gemaak deur die ondersteuning van Oxford University Press SA, Het Jan Marais Nationale Fonds, die National Arts Council (NAC), die Presidential Employment Stimulus Programme (PESP), BASA en die fees se amptelike verblyfvennoot, Garden Court Nelson Mandela Boulevard.
Kopiereg van tekste behoort aan Antjie Krog en Oxford University Press SA. Gedigte is in hul oorspronklike taal opgeneem in Oxford University Press se Stitching the Whirlwind, waarvan Antjie Krog die samesteller is.