19 Augustus 2024
Die Suidoosterfees en Kunstekaap se jaarlikse Hoërskool Dramafees het pas in Kaapstad ten einde geloop. Tien hoërskole se toneelproduksies is van 12 tot 16 Augustus in die Kunstekaap-teatersentrum opgevoer, en wenners is na afloop van die fees in verskillende kategorieë met toekennings beloon.
Dié gewilde fees wat deur Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur ondersteun word, bied vir hoërskoolleerders ’n platform waar hulle hul kreatiwiteit kan uitleef en ondervinding in ’n professionele teateromgewing opdoen.
Hoërskool Fairdale Nr. 2 het die wendrama opgelewer met hul produksie 12 Reasons, 4 Solutions. Mpumelelo Phanginxiwa is as beste regisseur van die stuk aangewys, en die geselskap het ook ’n toekenning vir beste ensemblespel ontvang.
12 Reasons, 4 Solutions handel oor vier seuns van ’n township-skool wat as vriende saamstaan om maatskaplike uitdagings die hoof te bied. Christopher Gwayana, Ndlovu Liyema, Sitole Ibongwe en Bhozo Vuyolwethu was die jong akteurs op die verhoog.
Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas het hul jarelange reputasie as uitblinkers by die fees gestand gedoen deur met twee toekennings weg te stap. Die hoofspeler in die skool se produksie Taurus, Zander Oberholzer, is as beste akteur bekroon, en Alae Hanekom is as wenner in die beste verhoogteks-kategorie aangewys.
Die aankondiging van Alison Jegels as beste ondersteunende akteur in Scoreboard het vir onvergeetlike oomblikke by die Hoërskool Dramafees gesorg. Alison, ’n blinde leerder van die Pionierskool, kom van Oudtshoorn en is in die koshuis op Worcester. Almal by die fees het trane weggevee toe haar ma op die verhoog by haar aangesluit het om haar toekenning te ontvang.
Houtbaai Internasionale Skool het tydens die prysoorhandiging presteer met ’n toekenning vir beste tegniese prestasie vir hul produksie van Shakespeare se Richard III. Hoërskool Parel Vallei het ’n spesiale beoordelaarstoekenning ontvang vir die musikale regie van 99 Luftballons, ’n stuk met ’n sterk boodskap teen die verwoesting en smart wat oorloë meebring.
Herman van der Westhuizen, Mbulelo Grootboom en Dara Beth was die beoordelaars tydens die fees. Beth, wat vanjaar die derde keer op die paneel gedien het, het na afloop van die fees gesê: “Dit is ’n voorreg om te sien hoe skole jaar na jaar verbeter en hoe spelers en tegnici se vaardighede ontwikkel. Wat vanjaar uitgestaan het, was die gehalte van die aanbiedinge. Die idees was baie sterk ontwikkel, die stukke was volrond en die entoesiasme van die spelers en tegnici was aansteeklik.”
Hoërskool Fairdale Nr. 2 se wenproduksie, 12 Reasons, 4 Solutions, sal in 2025 by die Suidoosterfees op die planke wees.
Klik hier om die Dramafees-program in PDF-formaat af te laai.
Lede van Hoërskool Parel Vallei se geselskap van 99 Luftballons vertel waarom hulle die Hoërskool Dramafees by Artscape geniet.
Foto’s: Gary Naidoo