In 2023 het talentvolle Kapenaars aan uitdunne van die Suidoosterfees se Talentsoektog deelgeneem om hul vaardighede as sangers, dansers, akteurs, komediante en musikante ten toon te stel. Kandidate wat beoordelaars beïndruk het en na die semifinale ronde deurdring, spook sake op Saterdag 16 Maart om 10:00 in die V&A Waterfront-amfiteater uit vir ’n plek in die finale ronde.
Algehele wenners word later vanjaar by die 21ste Suidoosterfees, aangebied van 26 April tot 1 Mei by Artscape, aangekondig. Die Talentsoektog-finaal vind op 1 Mei om 12:00 plaas.
Burger King, wat dié gemeenskapsprojek ondersteun, gaan by die semifinale teenwoordig wees om toegewyde ondersteuners met lekker pryse te bederf. Ezelna Jones, Burger King se bemarkingshoof, sê: “As Talentsoektog-vennoot is dit vir Burger King heerlik om te sien hoe deelnemers die kans kry om hul talente aan die publiek te demonstreer. Ons glo daarin dat kuns en kultuur lewensveranderende geleenthede bied en deure vir mense kan oopmaak.”
Op 16 Maart gaan daar ’n feestelike atmosfeer heers wanneer beoordelaars en die publiek die passie van semifinaliste eertehands aanskou. Deelnemers het slypsessies deur kundiges in die vermaaklikheidsbedryf by Dance for All meegemaak om hul optredes af te rond en ekstra spesiaal te maak.
Onder die kandidate is die tiener-dansgroep 021 Rebels van Athlone; Paul Daniels, ’n multi-instrumentalis van Mitchells Plain; asook twee dansgroepe van Khayelitsha wat deur die choreograwe Stoan Galela en Mphathi Victor Ngqulu afgerig word.
Wenners wat tydens die 21ste Suidoosterfees aangekondig sal word, kom in aanmerking vir groot pryse: R10 000 vir die algehele wenner en ’n studiebeurs by Dance for All vir die beste danser. Die finale ronde kan gratis deur die publiek bygewoon word, en die volledige feesprogram is beskikbaar by suidoosterfees.com.

Die Suidoosterfees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape. Die Talentsoektog-projek word moontlik gemaak deur Burger King, kykNET se Suidooster, Dance for All en die Kaapse gemeenskapspublikasies City Vision, People’s Post en TygerBurger.