


Nege finaliste het op Saterdag 16 Maart deurgedring na die finale ronde van die Suidoosterfees se Talentsoektog-kompetisie wat jaarliks in die Wes-Kaap gehou word. Opwinding het geheers by dié geleentheid in die V&A Waterfront-arena, waar agtien individue en groepe in sang, musiek en dans meegeding het vir die eindronde wat op 1 Mei 2024 tydens die Suidoosterfees plaasvind.
Wanneer wenners op 1 Mei by Artscape aangewys word, ontvang die algehele wenner R10 000 en die beste danser kry ’n beurs vir ’n jaar se studie by die dansskool in Athlone, Dance for All. Allison Hendricks, hoof van dié bekende skool, was Saterdag op die beoordelaarspaneel saam met die akteur Whaden Johannes en Kelvin McKinnon van Burger King, een van die projek se hoofondersteuners.
McKinnon het die gees waarin die semifinale by die Waterfront aangebied is, so opgesom: “Elke deelnemer se optrede getuig van deursettingsvermoë en die ongelooflike krag wat opgesluit lê in kreatiewe uitdrukking. As beoordelaar was ek bewus van die skoonheid in diversiteit en individualiteit.”
Deelnemers het dié ronde gehaal na ’n reeks uitdunne wat in 2023 in die Kaap gehou is.
Sangers wat in die finale ronde om die Talentsoektog-kroon gaan meeding is Gershwin Prins (34) van Stellenbosch, Caitlin White (16) van Delft, Brandon Mack (28) van Botrivier, Lady A, oftewel Angelique Solomon (34) van Atlantis, en die 12-jarige Neemah van Tulbagh.
Die kitaarspeler Paul Daniels (28) van Mitchells Plain het beoordelaars verlede jaar reeds beïndruk met sy veelsydigheid as musikant. Paul is nie net ’n towenaar met ’n elektriese kitaar nie, hy speel ook klavier, baskitaar en dromme.
IMAD, ’n groep van nege jazz-sangers tussen 13 en 18 jaar, het ook tot die finale ronde deurgedring. Hulle word by die Institute for Music and Indigenous Arts Development in Khayelitsha afgerig deur hul musiekonderwyser, Eric Solman.
Twee dansgroepe van Khayelitsha is in die dansafdeling as finaliste aangewys: die United Township Dancers en die Ilingomso Lethu Traditional Dancers.
Die United Township Dancers het vyf lede, almal 12 tot 14 jaar oud, en Stoan Galela is hul choreograaf. Die tradisionele dansgroep, Ilingomso Lethu, se lede is tussen 12 en 24 jaar oud, en hulle spesialiseer in tradisionele Tswana- en Xhosa-danse. Hulle het in 2015 ontstaan toe ’n nasorgprojek vir skoolkinders op die been gebring is waar leerders namiddae met ekstra-kurrikulêre aktiwiteite ondersteun word.
Raymano Randall, Suidoosterfees se algemene bestuurder en Talentsoektog-organiseerder, het Saterdag gesê: “Ons sien baie uit na die finaal wat op 1 Mei by die fees plaasvind, en ons is dankbaar vir ons Kaapse mediavennote, City Vision, People’s Post en TygerBurger, wat inspirerende stories van talentvolle mense in ons gemeenskap aan lesers oordra.”
KykNET se bemarker van die Suidooster-sepie, Wilmer Müller, het beklemtoon dat instansies en besighede graag ’n bydrae lewer om talentvolle mense se drome waar te maak. “Danksy Suidoosterfees se passie vir hierdie projek kry talle deelnemers ’n platform om hul talente ten toon te stel en só help dit hulle ook om die lewe met meer selfvertroue aan te pak.”
Die Talentsoektog word moontlik gemaak deur Burger King, kykNET se Suidooster, Dance for All en die Kaapse gemeenskapspublikasies City Vision, People’s Post en TygerBurger.
Toegang tot die Talentsoektog-finaal tydens die Suidoosterfees is gratis vir die publiek; programbesonderhede is beskikbaar op suidoosterfees.com. Die fees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.