Kaartjies verkoop reeds fluks vir aanbiedings met komiese karakters wat op sosiale media beroemd geraak het. In Bettie innie selle met Dean Smith beland die nimlike Aunty Bettie in ’n aanhoudingsel tussen geharde misdadigers nadat sy in hegtenis geneem is. Met haar skerp tong kom die kriminele natuurlik sleg tweede!Veronique Jephtas is te sien as Mavis vannie Lavis in Chronicles vannie Lavis, gebaseer op die skrywes van die supergewilde en omstrede Facebook-persona. Margit Meyer-Rödenbeck bring ook die beminde Dowwe Dolla se ouma na die verhoog. In Ouma weet … deel die bejaarde haar wyshede, sommer ongevraagd, met die jonger geslag. |
---|

Liandé Valentyn en Gary Naidoo verskyn in Rajee & Fatgiyah se show met komedie uit die hart van die Bo-Kaap. En die gesoute Daily Maverick-joernalis en komediant Marianne Thamm inspireer gehore met lesse oor demokrasie in Speed Politics for Bewildered South Africans.

Musiekliefhebbers kan nader skuif vir Amanda Strydom: Piaf, waarin dié immergewilde sangeres sewe van Edith Piaf se bekendste liedere sing. Die Kaapse koerant Son, wat vanjaar saam met die Suidoosterfees mondig word, bring Galaxy na die 21-verhoog met Nic Miso, William Jacobs en musikante van die legendariese Galaxy-klub.
Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry gee ’n satiriese blik op die manier waarop woorde betekenis in die wêreld kry. In Lipkap klik en klap die tonge behoorlik, onder meer in Khoekhoegowab.
In Ontban sing Corneil Müller en Lynelle Kenned liedjies wat voorheen verban was, en This is home spog met Sima Mashazi en Ramon Alexander se pragtige musiek uit hul onderskeie grootword-wêrelde.
Opera en klassieke musiek word uniek verpak in die 21-reeks. Janelle Visagie is in Bon appétit!, ’n boeiende kortopera gebaseer op Julia Child se dekadente sjokoladekoekresep. AGL Opera bring Operetta Odyssey na die verhoog met tydlose melodieë van Johann Strauss II en Franz Lehár. En in Vivaldi’s Four Seasons: Snapshots vier Roxane Steffen, Petrus Coetzee en Ralitza Macheva die jaarseisoene soos wat gehore nog nie tevore ervaar het nie.
Internasionale Dansdag, wat elke jaar saam met die Suidoosterfees val, word met drie opwindende dansproduksies gevier: Listen to my hands met lede van Unmute Dansteater, Unbound met Jazzart-dansers en POV: Point of View, aangebied deur Figure of 8 Dance Collective.
Teaterliefhebbers sal gaande wees oor André Terblanché en Karli Heine in Dean Balie se Een vir my baby! Carlo Daniels is te sien in die vermaaklike Knyp die kous innie donker met Melissa Myburgh as regisseur. Myburgh neem ook Hoërskool Parel Vallei se ATKV-Tienertoneelwenners onder hande in ID, asseblief?
