20 Augustus 2026
Die Suidoosterfees is verheug om aan te kondig dat Verwelkingslied, Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk, die kortlys van die Nasionale Kuns- en Kultuurtoekennings (NACA) gehaal het vir Uitstaande Teaterproduksie in die kategorie vir uitvoerende kunste.
Die benoeming is ’n besondere eer vir die Suidoosterfees, wat die werk geïnisieer en vervaardig het. Dit vereer terselfdertyd ’n produksiespan wat een van Breytenbach se laaste groot skeppings met sorg, integriteit en besondere kreatiwiteit na die verhoog gebring het.
Marí Borstlap se kreatiewe visie vereer
Antoinette Kellermann, Jana Hattingh (agter), minister Ricardo Mackenzie, burgemeester Geordin Hill-Lewis, Dawid Minnaar en Marí Borstlap tydens Stad Kaapstad se funksie vir die Verwelkingslied-geselskap by Suidoosterfees 2025.
Die Suidoosterfees wens die hele produksiespan geluk – en in die besonder Marí Borstlap, die regisseur en ontwerper wie se kreatiewe visie Breytenbach se laaste toneelstuk tot lewe gebring het.
Breytenbach het Verwelkingslied kort voor sy dood in November 2024 op versoek van die Suidoosterfees geskryf. Hy is oorlede voordat hy die werk self op die planke kon beleef. Die produksie het in 2025 by die Suidoosterfees gedebuteer, met Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar in die rolle van die Ou Aktrise en die Meester – ’n figuur wat onmiskenbaar aan Breytenbach self herinner.
Onder Borstlap se leiding is Breytenbach se laaste dramateks omskep in ’n veelvlakkige teaterervaring waarin woord, spel, klank, lig, beeld en beweging saamwerk. Haar regie het ruimte geskep vir die digtheid van Breytenbach se taal, maar ook vir die humor, ironie, teerheid en weerloosheid wat die werk kenmerk.
Borstlap herstel tans van ’n operasie en sal ongelukkig nie die NACA-seremonie kan bywoon nie. Jana Hattingh en Melt Myburgh, wat die produksie geïnisieer en Breytenbach oorreed het om die werk vir die Suidoosterfees te skryf, sal haar en die geselskap by die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se seremonie verteenwoordig.
Die Suidoosterfees dra hierdie erkenning met groot waardering aan Borstlap, die hele produksiespan en al die vennote en ondersteuners van Verwelkingslied op. Ons wens haar ’n spoedige en volkome herstel toe.
Breytenbach se swanesang
Die Suidoosterfees-span saam met Breyten Breytenbach in Wellington toe die ooreenkoms vir 𝑉𝑒𝑟𝑤𝑒𝑙𝑘𝑖𝑛𝑔𝑠𝑙𝑖𝑒𝑑 gesluit is: Melt Myburgh (ontwikkelingstrateeg), Theresa Olivier (direksielid), Breyten Breytenbach, Raymano Randall (feesbestuurder) en Jana Hattingh (uitvoerende hoof).
In Verwelkingslied stel die karakter Meester homself by sy eie begrafnis voor. In ’n intieme en bewussynsverruimende gesprek met ’n ou verhoogaktrise kyk hy vir oulaas terug op ’n lewe van skepping, verlies, liefde en verset.
Die werk is tegelyk ’n afskeid van die lewe, ’n besinning oor ’n gekwelde land en ’n laaste gesprek met Afrikaans – die taal wat Breytenbach deur sy hele loopbaan gekoester, uitgedaag en voortdurend herskep het. Met ironiese selfbewustheid probeer Meester vir oulaas alles opweeg. Die Ou Aktrise word op haar beurt met die moeilike opdrag gelaat om sy laaste woorde na behore te vertolk.
Breytenbach het die toneelstuk aan Antoinette Kellermann en Marthinus Basson, twee van sy jarelange teatermedewerkers, opgedra. Kellermann se vertolking van die Ou Aktrise en Dawid Minnaar se spel as die Meester is die spreekwoordelike hart van die produksie.
Teaterkritikus Laetitia Pople het die werk beskryf as “’n onvergeetlike groet en afsluiting van ’n grootse bydrae”. Dit is ’n gepaste beskrywing van ’n produksie wat nie bloot as ’n nuwe toneelstuk ontvang is nie, maar ook as ’n belangrike kulturele gebeurtenis en ’n laaste ontmoeting met een van Suid-Afrika se invloedrykste skrywers.
Van die Suidoosterfees na nasionale verhoë
Verwelkingslied het tydens die Suidoosterfees van 2025 voor vol gehore gedebuteer en was een van die fees se uitstaande teatersuksesse. Die produksie is daarna in Oktober 2025 by Momentum Aardklop aangebied, het in 2026 na die KKNK gereis en het gedurende die Suidoosterfees van 2026 na Kaapstad teruggekeer.
Die produksie het gehore oor verskillende feesgemeenskappe heen bereik en terselfdertyd die waarde van samewerking tussen Suid-Afrikaanse kunstefeeste beklemtoon.
Dié reis het ook tot uitgebreide erkenning deur die Suid-Afrikaanse teaterbedryf gelei. Benewens benoemings by Momentum Aardklop en die KKNK, het Verwelkingslied vier kykNET Fiësta-toekennings ontvang:
- Breyten Breytenbach is postuum vereer vir Beste Nuutgeskepte Afrikaanse/Suid-Afrikaanse Teks.
- Antoinette Kellermann het die Fiësta vir Beste Aktrise ontvang.
- Marí Borstlap is vir Beste Regie vereer.
- Faheem Bardien het die Fiësta vir Beste Beligtingsontwerp ontvang.
Die NACA-kortlysbenoeming bou voort op hierdie erkenning en bevestig die produksie se uitnemendheid ten opsigte van teks, spel, regie, ontwerp en tegniese uitvoering.
Marí Borstlap het die Fiësta vir beste regie ontvang vir 𝑉𝑒𝑟𝑤𝑒𝑙𝑘𝑖𝑛𝑔𝑠𝑙𝑖𝑒𝑑. (Foto: Gys Loubser)
Die span agter Verwelkingslied
Akteurs: Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar
Teks: Breyten Breytenbach
Verhoogverwerking: Tessa Louw en Marí Borstlap
Regie en ontwerp: Marí Borstlap
Beligtingsontwerp: Faheem Bardien
Klankbaan: Wilken Calitz
Video-ontwerp: Richard Thomson
Verhoogbestuurder: Anina van de Wall
Assistent-verhoogbestuurder: Katy Jones
Vervaardiger: Suidoosterfees
Aflosregisseur: Waldemar Schultz
Verwelkingslied is ’n ko-produksie van die Suidoosterfees en Momentum Aardklop, moontlik gemaak deur die Spier Arts Trust, NATi, Het Jan Marais Nationale Fonds, die Festival Enterprise Catalyst (FEC), die Jobs Fund en Audi Centre Claremont.
Die Suidoosterfees bedank elke kunstenaar, medewerker, vennoot en ondersteuner wat gehelp het om Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk met soveel sorg en kreatiwiteit vir gehore by die Suidoosterfees, Momentum Aardklop en die KKNK op die verhoog te bring.
Die NACA-kortlysbenoeming is ’n eer vir die hele span, maar ook ’n bevestiging van die blywende krag van Breytenbach se stem. Hoewel hy nooit self Verwelkingslied op die verhoog kon sien nie, leef sy woorde deur die produksie, die kunstenaars en die gehore wat dit beleef voort.
Mag Breyten Breytenbach se woorde altyd voortleef.
