


Met die Suidoosterfees se mondigwording is daar groot musiekkonserte wat feesgangers van 26 April tot 1 Mei partytjiewoema gaan gee. Dié fees word vanjaar vir die 21ste keer aangebied in Kaapstad se Kunstekaap-teaterkompleks.
Die aand van 25 April word die fees amptelik geopen met die Burger King konsert van hoop. Vir feesgangers wag daar ’n luisterryke ervaring wanneer die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes die Operahuis-verhoog betree saam met soliste soos Tarryn Lamb, Lynelle Kenned, Robin Pieters, Salome en Lize Beekman.
Saam met die gevierde sangers word van die land se talentvolste jeugmusikante op die verhoog verwelkom. Chad Hendricks lei die stad se jeugorkes, en uitblinkers van die Nasionale Jeugmusiekstigting se kompetisie gaan ook hul slag wys. Skoolkore van Jan van Riebeeck en Masidlale Hoër is op die program ingesluit, asook die gewilde Muzukidz-groep.
Burger King, wat dié glansryke konsert ondersteun, se bemarkingshoof Ezelna Jones sê: “Om jeugtalent saam met ervare kunstenaars op die verhoog te sien, is ’n besonder inspirerende ervaring vir die jongelinge, en dalk self meer vir die gevestigde kunstenaars. Vir Burger King is dit ’n voorreg om dié sinergie moontlik te maak, want só bou ons aan die selfvertroue van die musieksterre van môre.”
Die konsert 21 word gewy aan die fees se mylpaaljaar. Sandra Prinsloo, Vinette Ebrahim en Marion Holm is die seremoniemeesters, en hulle gaan feeskersies uitblaas saam met uitgelese name in die musiekbedryf. Veterane van die verhoog tree op saam met jonger sterre wat deur die jare hul merk op die plaaslike musiektoneel gemaak het nadat hul vaardighede tydens die Suidoosterfees se ontwikkelingsprojekte geslyp is.
In die 21-konsert begelei die Kaapstadse Filharmoniese Orkes sangers soos Anna Davel, Babalwa Mentjies, Coenie de Villiers, Early B, André Schwartz, Lynelle Kenned, Elzabé Zietsman, Frazer Barry, Selim Kagee, Sima Mashazi, Edith Plaatjies, Nic Miso en Loukmaan Adams.
Die immergewilde Suidooster Stormsterk is weer op die feesprogram en spog met Suidooster-akteurs wat die wêreld aan die brand kan sing. Natasha van der Merwe, Jawaahier Petersen, Irvine van der Merwe, Jill Levenberg, Eden Classens en Simone Biscombe is agter die mikrofoon, en van die kykNET-sepie se gewildste akteurs maak verrassingsverskynings. KykNET en Homebrew Films span kragte met Tygerberg 104 FM saam om dié konsert na Suidoosterfees te bring.
Nataniël kom maak ook ’n Kaapse draai met Ring van vuur. Die formidabele kunstenaar is op die verhoog saam met wêreldklas-musikante: Marcel Dednam, Werner Spies, Peter Auret, Juan Oosthuizen, Loki Rothman, Leon Gropp en Luke van der Merwe. Floris Louw se witwarm kostuums, Nataniël se splinternuwe stories, asook ritmes uit Mexiko, Argentinië, Chili en Peru, gaan sorg vir ’n skouspel wat feesgangers beslis nie gou gaan vergeet nie.
Operaliefhebbers gaan bederf word deur die stemme van Magdalene Minnaar, Minette du Toit Pearce, Louis Loock en Conroy Scott. Dié kunstenaars tree op in Operagala saam met die Kaapstadse Opera- en kinderkoor, en hulle word begelei deur ’n strykkwartet en die pianis Elna van der Merwe. Wêreldberoemde kunstenaars soos Placido Domingo en William Kentridge het al die hoogste lof vir die Moederstad se Operakoor uitgespreek tydens internasionale optredes.
Die nimlike Lizz Meiring is vanjaar die seremoniemeester van die ATKV-Koorgala, waar gewilde musiekkunstenaars optree saam met wenkore van die ATKV en die Suidoosterfees se jaarlike koorkompetisie. Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor gaan sorg vir betowering saam met die wenkore. ’n Massakooruitvoering met meer as 100 stemme gaan beslis die kersie op die fees se 21ste verjaardagkoek wees!
Die tydskrif Kuier bring die Kaap se gunsteling-gospelsangers byeen vir ’n konsert wat die Operahuis se dak ten hemele gaan lig. Farren Cloete, Anslin Gysman, Jonathan Rubain, Dumisani, Die Lekker Crew, Almarie du Preez, Phillipine Morkel, Elwira Standili, DOEP en die Universiteit van Kaapstad se koor gaan feesgangers geestelik verryk tydens Die Kuier-gospelkonsert, ondersteun deur Radio Kaapse Kansel.
By vanjaar se fees gaan daar behoorlik geboogie word. Die gewilde Boogie-span, Gary Naidoo, Ree Cornelius, Janine Cornelius, Celest Dreyer, Jon-E en Candice Thornton, sorg elke jaar vir uitverkoopte vertonings by die fees met disko-treffers uit die 70’s en 80’s. Vanjaar maak hulle weer so.
Die poniekoerant Son word ook mondig in 2024, en vanjaar vier hulle dié mylpaal met ’n reeks Son nagkafee-konserte. Van 26 tot 30 April slaan die koerant elke aand ’n verjaardagknerts saam met lesers en feesgangers weg met konserte deur musieksterre soos Babalwa Mentjies, Die Elginairs en verskeie jazz-musikante.
Emo en Loukmaan Adams gaan mekaar uitdaag en terg in Two of a kind, ’n spesiale konsert wat die sjarmante broers se sukses in die musiekbedryf vier, en die Universiteit Stellenbosch-koor tree ook by die fees op.
Musiek voer ook die botoon in twee ander Suidoosterfees-programafdelings – Fluweelklanke en NATi Musiekteater. Besoek suidoosterfees.com om die volledige musiekaanbod onder oë te kry; kaartjies is beskikbaar by Webtickets of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.
Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape. Die fees se musiekaanbiedinge word verder ondersteun deur Burger King, Kuier, Son, Radio Kaapse Kansel, Tygerberg 104 FM, Fine Music Radio en die Johann Brink Trust.