3 Augustus 2026
Die Suidoosterfees se Burgemeestersbal gaan vir seker ’n hoogtepunt op Kaapstad se sosiale kalender wees. Dié besondere fondsinsamelingsgeleentheid vind op Saterdag 19 September 2026 by die Lagoon Beach Hotel in Milnerton plaas.
Die bal bring leiers uit die sakewêreld, kultuursektor en filantropiese gemeenskap byeen om die belangrike rol van die kunste in ons samelewing te vier. Gaste kan uitsien na ’n aand van elegansie met voortreflike vermaak, op-en-wakker musiek, uitstekende geselskap en ’n keurig saamgestelde driegangmaaltyd.
Maar die Burgemeestersbal is meer as net ’n glansgeleentheid. Die opbrengs word aangewend om die Suidoosterfees se werk ter ondersteuning van die uitvoerende kunste voort te sit. Die fees skep regdeur die jaar optreegeleenthede vir kunstenaars, ondersteun nuwe stemme en bied vaardigheidsoordrag- en ontwikkelingsprogramme aan. Deur die bal te ondersteun, belê gaste dus direk in die toekoms van die kunste.
’n Tafel vir tien gaste kos R20 000, BTW ingesluit. Dit bied ondernemings en organisasies die ideale geleentheid om kollegas, kliënte, belanghebbendes of vriende te onthaal en terselfdertyd ’n betekenisvolle bydrae tot die kunste te lewer. Individuele kaartjies is ook teen R2 000 per persoon, BTW ingesluit, beskikbaar.
Kom vier saam met ons die kreatiwiteit, talent en gemeenskappe wat die Suidoosterfees so besonders maak.
Bespreek jou tafel of individuele sitplek teen Vrydag 14 Augustus 2026 deur Elena Agnello by Elena.Agnello@media24.com te kontak.
