Suidoosterfees-ATKV-koorkompetisie

Die ATKV en die Suidoosterfees het weer goeie nuus vir amateurkore wat gemeenskappe in die Wes-Kaap se harte met hul stemme verower. Inskrywings vir die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is nou oop.

Sangroepe en kore wat op plase, in kerke en plaaslike gemeenskappe bedrywig is, kan inskrywingsvorms by die skakel hier onder kry.

Die sluitingsdatum is 10 Maart 2025, of sodra die kapasiteit vir die aantal deelnemende kore bereik is.

Die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie was vanjaar op die feesverhoog saam met Emo Adams (Foto: Gys Loubser)
Die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie was vanjaar op die feesverhoog saam met Emo Adams (Foto: Gys Loubser)

Kompetisiewenners ontvang trofees en word genooi om tydens die Suidoosterfees op te tree saam met bekende sangsterre. Vanjaar was die volgende kore wat verskillende kategorieë gewen het, op die feesverhoog saam met Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor: Porterville se Messengers of God (sanggroep), die Zolani Jeugkoor van Ashton (gemeenskapskoor) en die Bosman Adama-koor van Wellington (plaaskoor).

Finalis-kore wat uit die inskrywings gekeur word, word genooi om werkswinkels by te woon waar hul vaardighede deur kenners in die musiekbedryf verfyn word. Vanjaar is dié slypsessies in Ceres en tydens die Adam Small-fees in Pniel aangebied. In 2025 word algehele wenners by die fees, in Kaapstad aangebied van 30 April tot 4 Mei, aangewys.

Die ATKV en die Suidoosterfees bied die kompetisie elke jaar aan om volhoubare musiekgeletterdheid en opleiding onder amateurkore en koorleiers te bevorder.

Vir navrae en meer inligting, kontak Johan Esterhuizen by johane@atkv.org.za.

ATKV-SOF-logos 2