9 Oktober 2025
Die Suidoosterfees is vereer met die Neville Alexander-toekenning vir Uitstaande Bydrae tot die Bevordering van Veeltaligheid, toegeken deur die Wes-Kaapse Regering tydens die 2025 Wes-Kaapse Kultuurtoekennings. Die toekenning erken die fees se baanbrekerprojek, Met woorde soos kerse, wat in samewerking met die bekroonde digter Antjie Krog geskep is.

Gillian Mitchell van die Suidoosterfees en Edmund Jeneker (direksievoorsitter) met die gesogte Neville Alexander-toekenning wat hulle namens die Suidoosterfees-span in ontvangs geneem het.
Oor die projek
Met woorde soos kerse is in 2024 by die Suidoosterfees aangebied ter viering van die fees se 21ste bestaansjaar, asook die tiende verjaardag van Netwerk24, ’n hoofborg van die fees. Die projek bestaan uit ’n reeks van nege video’s waarin gedigte in verskeie inheemse Suid-Afrikaanse tale voorgedra en in Afrikaans vertaal is deur Antjie Krog. Die tale sluit Kwedam (’n San-taal), Sesotho, isiZulu, Sesotho sa Leboa, Setswana en isiXhosa in.
Elke gedig is in beide die oorspronklike taal én in Afrikaans voorgedra, wat die projek besonder relevant maak vir die bevordering van meertalige kommunikasie en kulturele diversiteit binne die Wes-Kaap se drie grootste taalgemeenskappe: Afrikaans, Engels en isiXhosa.
Die vertolkings is deur ’n uiteenlopende ensemble van gerekende kunstenaars en stemkunstenaars gedoen, onder wie Antjie Krog, Jerry Mofokeng-Makhatha, Zamah Nkonyeni, Loti Makoti, Barileng Malebye, Bonke Xakatha, Kay Smith en Nunke Kadhimo. Die voorlesings is verryk met oorspronklike musiek deur Nceba Gongxeka en Nomapostile Nyiki van Ancient Voices, met visuele projeksies en dans wat die produksie multidissiplinêr en visueel aanskoulik maak.

Zamah Nkonyeni en Antjie Krog (Foto: Gys Loubser)
Toeganklikheid en opvoedkundige waarde
Vanaf die staanspoor is toegang tot die projek gratis aangebied. Die video’s is oorspronklik deur Netwerk24 versprei (ook vir nie-intekenare) en daarna op die Suidoosterfees se webwerf geplaas, waar dit steeds vrylik beskikbaar is.
Die reeks word aktief aanbeveel vir gebruik in skole, universiteite en navorsingsinstellings as hulpmiddel vir vergelykende taal- en letterkundestudie, interkulturele bewustheid en die bevordering van meertalige geletterdheid.
Waarom hierdie projek uitstaan
Die projek gee erkenning aan inheemse literêre stemme en dra by tot die waardering van veeltaligheid as ’n bron van nasionale eenheid en kulturele begrip. Dit bring mense letterlik en figuurlik bymekaar deur taal en toon hoe poësie, musiek en dans as verbindende kragte kan dien.
Boonop het die projek vaardigheidsoordrag tussen kunstenaars moontlik gemaak. Tydens die voorbereiding het Antjie Krog saam met moedertaalsprekers gewerk om haar vertalings te verfyn, wat weer die deelnemende kunstenaars aan nuwe voordragtegnieke en digterlike benaderings blootgestel het.

Loti Makoti tydens sy voorlesing van Phorohlo Mamogobo se “Pheladi” in Sesotho sa Leboa (Foto: Gys Loubser)
’n Toekenning van betekenis
Die Suidoosterfees se Met woorde soos kerse-projek vergestalt die kernbeginsels van die Neville Alexander-toekenning: dit bevorder inheemse tale, stimuleer dialoog tussen gemeenskappe en dra by tot die versterking van veeltaligheid in Suid-Afrika.
Met sy oorsprong in ’n Kaapse fees, maar met ’n impak wat wêreldwyd weerklink, gebruik hierdie projek taal as brug tussen mense, kulture en generasies.
Vennootskappe en borge:
Met woorde soos kerse is moontlik gemaak deur samewerking met Netwerk24, en met die steun van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Die Burger, NATi, kykNET, ATKV, Artscape, Oxford University Press SA, Het Jan Marais Nationale Fonds, die National Arts Council (NAC), die Presidential Employment Stimulus Programme (PESP), Business and Arts South Africa (BASA) en Garden Court Nelson Mandela Boulevard as verblyfvennoot.